Christophe Roelofse

In deel 1 vertel ek van ons jaarlikse pelgrimsreis na die “biltongjagparadys” van Harloo Safaris in Zoeloeland, KwaZulu-Natal, aangrensend tot Swaziland en Pongola-wildreservaat met sy uitsonderlike groen natuurprag, berge en buffels. Sondag slaan ons kamp op en Maandag vat ons die spoor en maak die jagrekening oop.

Natal se digte bosruigtes gee voorkeur aan groter, stadiger kalibers – ’n .308 of .30-06 met 180 gr-koeëls is ’n redelik minimum keuse, maar hier is .375 die gemene deler. Selfs vir die jongspan is 7.62×39 ’n plan. As jy hier iets soos ’n blouwildebees kwes, kan jy maar los. Ek verstout my met ’n tema en iets anders vir elke jagdag – .500 S&W-rewolwer (’n .460 W&S is hopeloos te vinnig, maar ’n .44 Mag of .454 Casul is ’n puik opsie); die .50 Swartkruit moet in; natuurlik ook my gunstelingjaggewere, .458 Winchester Safari Express; en vir ’n “klein kaliber”, die .375 H&H WSE, ’n lekker ding met solids vir kleiner wild. (Die .416 moet tuisbly, want dis te vinnig en geniepsig op die “bo-arm” vir bos-combat.)

Die manne pak uitsonderlike, lekker goed in, soos broer Anton se Forest .375 R en Christo se pragtig gegraveerde .375 H&H CZ 550 Safari Classic. Onder die wapens is daar Danie Wingard se .338-06 en .375 H&H Improved (oftewel .375 WS), waarvan ek graag meer vertel. Dié vriend is ’n ou, befaamde professionele en grootwildjagter, ’n meganiese ingenieur van beroep met ’n lang loopbaan en eindelose ervaring en kundigheid in gevorderde, ballistiese en militêre wapenstelsels, asook die vader van my nuwe big-bore-gesinskaliber, die .425 SE (Safari Express). Kyk, ek sê mos altyd, ’n jaggeweerkaliber het ’n “vyf” in of begin met ’n “vier”, einde van die storie.

Beproef alles en behou die goeie. Danie het sy .338-06 in 2008 gebou om sekerlik een van die beste, grootste ikone van alle tye, die .318 WR (Westley Richards), na te boots. Onthou, .330-koeëls is baie skaars, maar .338 is volop, met baie opsies. A-Square bevestig die .338-06-ontwerp formeel in 1998, en selfs Weatherby kamer gewere vanaf 2001. Natuurlik kan jy tot 300gr-koeëls gebruik, maar hy skiet die geykte resep van 250 gr in .338-kaliber teen 2 400 voet per sekonde (vps) met ongelooflik goeie resultate in dié geweer. Ons weet die .375-kaliber is magic, maar met baie ervaring in die jagveld – onder andere met die .375 Weatherby se 350 gr- koeël met redelik gematigde spoed – ontwerp Danie die .375 WS (Wingard & Swanepoel) om 350 gr-koeëls teen 2 400 vps te skiet met ’n korter dop geskik vir ’n standaard-Mauser 98-aksie. Dis basies ’n .300Win-dop van 68 mm met ’n totale rondtelengte van 88 mm – juis wat tradisionele wapensmede soos die Duitsers geglo het ’n standaardaksierondte se maksimum lengte kan wees. En die beste van alles – dit werk met Somchem S365! Internasionale skrywers soos Phil Massaro het al puik kommentaar daaroor geskryf. Ons het op Harloo weer gesien hoe devastating die .375 WS is.

Dis Dinsdagoggend, my en broer Anton se verjaarsdag, en ons is sommer reeds vroeg bederf met geskenkies, koffie en selfs ballonne in ons jaghuisies. Ter viering van die momentous occasion het ons vir dié dag ’n kleinkalibertema, aldus ’n .375-uitdaging, beplan. Die dikste blou snotneus wen die dag. Natuurlik skiet ons ons mees geliefde .300 gr-Hornady DGX-ammunisie; die ou, absolute koeëlformaat wat goed presteer op groot en gevaarlike wild. Daar is altyd ’n getreiter tussen ons oor die “tradisionele” .375 H&H en die “kontemporêre” .375R (Ruger). My storie loop só: Die moderne .375 R-rondte is 150vps vinniger, dis korter en die ontwerpdimensies maak dit meer geskik vir akkurater platforms vir ’n jagkaliber ideaal vir verder skiet. Die H&H (Holland & Holland) se dimensies maak dit ideaal vir ’n betroubare, vinnige aksie wat maklik kamer vir die jag van gevaarlike wild. Die Ruger-aanpassing is seker maar die “Creedmoor”-evolusie vir die .375-kaliber.

Dis ’n lui plaas en die wild steek nie kop uit voor agtuur se koers, wanneer ons die gidse oplaai nie. Dit is reeds drukkend warm. Vriend Danie bestuur vir ons en die diesel-Cruiser loop ritmies deur die kronkelpaadjies. Broer Anton en Christo word saam met Sipho afgelaai – brawe stappers wat te voet deur die buffelvlakte na die ooste koers kies. Die dag lyk maar grys en iewers gaan ons weer natreën. Dit is gewoonlik iets waaroor bosveldjagters hul min bekommer, maar hoe gemaak met daardie mooi houtkolf-pasmaakgeweer? My Winchester .375 H&H SE is bekroon met ’n Vortex-refleksvisier, ’n plesier in die bos vir vinnig skiet op relatief naby, bewegende teikens. Vryhandskiet tot op so 100 m is mos jag! Ek is ’n groot voorstander van ’n ordentlike rooikolvisier (red-dot sight) met geen vergroting en parallaksdistorsie nie, want dit maak nie saak hoe sleg die geweer in die skouer rus in die haas om te mik en skiet nie – as jy die pin kan sien, is jy op teiken. Die beste is dat terwyl jy stip op die teiken fokus, jy net die geweer kan optel en die kolletjie kom tussenin; jy hoef dus nie terug te fokus na die geweer en visiere nie – ’n baie mooi plan vir ouer oë.

Die wêreld is verslawend mooi en die uitsigte asemrowend, genoeg dat jou selfbewustheid jou daaraan herinner dat jy in die kosmos net ’n gas is, ’n toeskouer vir ’n breukdeel van die werklikheid. Ons sien hier en daar blouwildebees wen potensiaal. Daar word hard gejag; die bosse is ruig met skouerhoë gras. Honderde meter hoog bo-op ’n berg kry ons ’n troppie mooi rooibokke. Dis darem nie net altyd biltongskiet nie; ’n man wil darem ook so net-net binne die “horingbegroting”-reëls ook ietsie skiet wat die hart kan trots maak. Die kansspel is mos gewoonlik baie moeiliker as om net gewoon mooi, baie groter horings te skiet.

Ek is te voet en buk en bekruip. Dis ’n redelike steilte en die troppie is so ligvoetig soos bergbokke; jy sien net ore en neus of so ’n halwe horing hier en daar. Ek gewaar ’n mooi rammetjie se kop omtrent 90 tree weg, en met ’n bietjie geduld so ’n vuisgrootte, oop kolletjie deur die bos op sy blad. Dis blare, takke en gras wat voor wuif en as ’n ou, gesoute gids vir jou “bakhand-op wys” daar is niks nie, dan weet jy daardie rooi kolletjie moet nou fyn gevat word. As dit op daardie oomblik voel asof die tyd stilstaan, asof die kosmos asem ophou in afwagting vir wanneer jy die sneller druk, en jy is vir daardie oomblik skaamteloos groter as die werklikheid, dan weet jy dis welgedane sake. ’n Haastige opvolg is onnodig, want hy lê reeds geduldig en wag sodat die mooi wêreld kan afskeid neem van die ou inwoner terwyl ons verder bergop veg. Dit is ’n mooi rammetjie en as ek hom so skuins kyk, lyk die horings darem nog nie “oop” nie. Dit was my “Harloo-jagskoot” van die week. Die videograaf, wat ons gesette omies se tempo ’n dag of wat gelede vlak gevat het, se hakke is velaf teen middagete en daar moet eers gedokter word. Ons laai almal op vir die middagete-siësta en laai bokke af by die abattoir, waar die rekening darem bestendig groei danksy die buffelvlakte se span. Van baie warm kan ek nie genoeg sê nie, maar almal is in die kampswembad. “Dêmmit, dis warm!” beskryf nie ses mense, waarvan vier jagters, se groot dors en warm kry nie – ons het in twee dae meer as 48 botteltjies water gebruik. Ek kan onverwyld sê ons het soos visse gesuip!

Dis so tweeuur se koers op die jaarlikse blouwildebees-uitdagingsdag en ek het steeds niks. Ons besluit om sommer almal saam die pad te vat dat ek ’n oog kan hou oor broer Anton se vordering. Hier en daar grom die weer en val ’n paar druppels, maar vuur en hael uit die hemele stop nie die span nie. Die kleigrond raak natuurlik haas onbegaanbaar, met so ’n snotlagie bo-op wat jou enige oomblik tussen die bome kan laat parkeer. Ek het ’n troefkaart: ’n groot dam met ’n hoë wal, basies in die middel van die plaas, met ’n vloedvlakte aan die een kant en ’n styl berg aan die ander kant, waar die blouwildebeeste deur die dag wei. Daar is ’n pad teen die berg wat hulle moet kruis om by die water te kom – steeds ’n lang stuk wat gepatrolleer moet word, maar hulle is gewoonlik so grasieus soos ’n goederetrein. So werk ons deur die bosse in die rigting van my plan.

Ek en die gewonde videograaf vat die makliker pad. Ons het skaars afgeklim en ’n entjie gevorder, of Danie en Anton trek .375-kommando op ’n trop wildebeeste, wat hulle totaal onkant kon vang. So, daar is my plan geflous, met al wat dier is op vlug uit Zoeloeland. Ná donker by die slagpale kuier ons om die Cruiser. Anton het my nul-opname natuurlik gewen, maar as troos het Danie darem op dié dag die Harloo-rekordhouer gewen, hoewel die rekord steeds op 143 kg staan! Welgedaan, dit wíl gedoen wees! By die kamp aangekom, brand die vuur reeds. Moonlight, ons kampvoorslag, het al die pap aan die kook. Vroegaand val ’n paar druppels en ons kuier in die groot trofeesitkamer, waar ons ’n bietjie op video oor Hornady-ammunisie en die dag se ervarings gesels. Natuurlik eet ons bitter lekker en drink darem ietsie eksoties – van Russies en Portugees tot Danie se kleurvolle, tropiese “sex in the bush”. Vanaand gaan slaap die spannetjie vroeg.

Mpunzikamp by Harloo Safaris is beslis een van die lekkerste plekke om soggens wakker te word as jy uitstap op jou balkon in die vrede van die digte groen boswêreld. Volg die paadjie en hangbrug na die hoofkompleks en lapa, die vuurtjie sal reeds brand. Moonlight en haar gesante het die kamp reeds opgeruim. As dit jou beurt is vir ontbyt maak, begin met ’n koffietjie en vat ’n Ouma. Kyk dan in die yskas en steel ’n stukkie van gisteraand se braaivleis voor jy begin met ontbytplanne in die hoop dat iemand anders sal verbydrentel en dalk hulp aanbied. Dis ’n sesdagmissie: ses dae se jag, ses mense, ses kokke en ses spesiale aandeteplanne, maar een standaardontbyt – te veel spek en genoeg eiers met roosterbroodjies, alles op die kole, met natuurlik ietsie van gisteraand se voorkeure.

Dit het deur die nag ook gereën. Woensdag is die dag van die “vuurstokke” – voorlaaiers. Met Christo die kampkommandant wat moet Pongola toe onder die vaandel van “watervoorrade en sakeverpligtinge” en wat ook kwansuis sy SK- (swartkruit) wapen “vergeet” het, en Danie wat aanvoer die Voortrekkeroorloë is lank reeds verby, rus die taak op my en broer Anton om die kruit te gooi. Die verskoning het natuurlik niks te doen met die oggend wat sommer met donderstorms afskop nie; ironies genoeg vir die swartkruitdag. Ek dink ons moet wegbeweeg van die volksmondterm “swartkruit” (black powder) en eerder praat van voorlaaiers (muzzle-loaders), want dit is ’n beter, meer inklusiewe, omvattende term met ’n baie spesifieke, eiesoortige betekenis a. Baie skuts gebruik in werklikheid glad nie “swartkruit” met bestanddele soos swael, houtskool en salpeter nie, maar baie meer moderne, sintetiese “swartkryt”. Daar is ’n groot verskil: Tegnies gesproke is swartkruit ’n springstof. Dis baie sensitief vir byvoorbeeld statiese elektrisiteit en ontplof eenvoudig in die loop, terwyl moderne, rooklose dryfmiddels ’n gekontroleerde ontbranding is. Ek glo dat die herlewing en ekonomiese groei van die voorlaaierskietsegment in Suid-Afrika grootliks gefasiliteer kan word deur ’n redelik bekostigbare, sintetiese “swartkruitdryfmiddel”-evolusie – ’n hoofstroom-produkreeks wat die kruit veiliger (stabieler) maak met meer betroubare prestasie, wat skoon brand en wat die tegniese swartkruitwetgewing besit en vervaardigingsbeperkinge aan bande lê. Ek is nie in die minste ’n swartkruitpuris met talle tradisionele of historiese swartkruitwapens nie. Ek beveel dit ook glad nie aan vir ’n beginner of geleentheidsgebruiker nie en hou maar by die .50-kaliber, want alles is net makliker beskikbaar. Ek besit en skiet swartkruitgewere soos wat ’n geleentheidsjagter ’n Tikka of Howa .308 besit. Ek het moderne wapens as gebruiksinstrumente, soos my gunsteling-CVA Accura in .50-kaliber met ’n Bergara S/S-loop wat 209 ontstekers (shotgun primers) gebruik, met ’n Lynx 2.5-15×50 wat ek hier gebruik het. In die slegte, nat weer het Anton ook besluit op ’n moderne swartkruitwapen, die ..50-kaliber-“Deerstalker”.

Ek pak eenvoudig net die groot oranje (gevaar) boks in met al die swartkruittoerusting en ons ry skietbaan toe vir ’n vinnige ladingontwikkeling en instruksie vir ons gidse. Ek skop af met 105 gr-Sanadex vir Anton se 200 gr-koeël en vir my 110 gr-lawaaipoeier vir die 250 gr-Hornady SST. Ek skat die spoed op 1 700 vps. Dis nie lank nie of die rookwolke hang weer oor Zoeloeland toe ons elk twee skote skiet vir groepering (reëlmatigheid) op 50 m en ’n toetsskoot op 100 m. Maak maar skoon tussen elke skoot; ek vind die Boretech-middels werk goed. Dis belangrik om ’n herlaaiprosedure met jou gids uit te werk. Ek hou daarvan om te skiet; terwyl ek die teiken dophou, hou ek die geweer op die grond met die loop na bo sodat die gids kan begin herlaai – kruit eerste en dan die punt wat geplaas en afgestoot en dan vasgestamp word tot onder. Ek tel net die geweer op, breek die nek en herlaai die slagdoppie. Die tegniek werk redelik goed en kan maklik goed geoefen word, veral as jy redelik gevaarlike wild wil skiet. Selfs al skiet jy met ’n dubbelloop, as daar tyd is, laai maar weer die eerste loop. Hou maar ’n ekstra punt en veral slagdoppies in jou sak; as dit val in die veld, is dit weg!

Ek en Sipho span saam; hy is ’n ou hand met my swartkruitskietery en het eerstehands gesien hoe effektief dié wapens op grootwild kan wees. Die paadjies is haas onbegaanbaar, seepgladde klei, en ons bestuurder Danie kry die bynaam “Danie Drifter”. Die weer is ’n probleem met reën en dreigende donderstorms en blitse al om ons op die horison. Dit skep fantastiese, mooi natuurtonele wat herinner aan die Engelse woorde “spectacular rolling thunderstorms over lush green hills”. Op ’n stadium loop en bekruip ek ’n trop blouwildebeeste. Ek bly die trop so 200 tot 250 tree voor my gewaar en volg hulle sowat 30 minute deur die ruie, skouerhoë gras deur in die oop grastonnel wat hulle maak, te stap. Dis so dig jy kan nie regtig die spore sien nie. Dan draai daar skielik ’n graspaadjie links uit en jou gedagtes maak die duiwel los: Wat as jy eintlik agter buffels aanloop of een gekruis het, en hierdie is die paadjie waarop hulle reeds teruggedraai het? Dis waar jy skielik die gids laat voorloop … Dis ’n horing hier en ’n neus daar. Die weer is sleg. Anton besluit gou die blouwildebeesplan is gekompliseerd en dat hy nog lank nie genoeg rooibok-knypkoppe geskiet het nie. Dis nie lank nie of die weer trek effens oop hier op ’n kol en ons loop sommer vinnig ’n troppie raak. Daar is min kalibers wat van ’n bladskoot prakties ’n “in-die-spore”-doodskoot maak. Dis ’n mooi jong rammetjie. Die gidse val sommer almal in vir ’n foto, moeg geswoeg asof ons buffel gejag het. Dis nie lank nie of ons is terug in die kamp en dit stortreën. Die vuurmaak put is 6″ onder water en almal is moeg en nat. Ons besluit dis tyd vir ’n gesellige uiteet by die naburige lodge.

Donderdag is jagdag. Die deurnagreën het nie toestande gehelp nie. Op ’n stadium is ons in halflyfwater deur ’n “droë” rivier, maar gelukkig word die groot instapkoelkamer al hoe voller. Gewoonlik gaan vang ons Vrydag tiervis, maar die manne wil nog jag en ek soek nog daardie Harloo-rekordblouwildebees wat my eventueel nie beskore was nie. Saterdag is dit inpak en dan die terugtog, met middagete in Ermelo, waar die avontuur begin het.

Wenke: In die vroeë maande van die jaar is Natal die ideale plek vir ’n oefenlopie vir enige iemand wat later die jaar in Afrika se trope gaan jag. Vat altyd water en nóg water, al is dit in die “wintermaande”. Jy is genooi! Besoek die webwerf:

www.harloosafaris.co.za