So het elke jagter in ons land sy tradisionele soort jagte wat hy en sy vriende of dalk sy familie elke jaar geniet. In die 2020-seisoen gaan jag soos ons jaggemeenskap dit geken het, egter onherroeplik verander. Besighede gaan bankrot en mense van alle rasse en ouderdomme word afgelê weens die ongelooflike finansiële druk op werknemers. En bitter min mense is hiervan kwytgeskeld. Jag is beslis nie hiervan uitgesluit nie. Honderde jagondernemers het dié jaar ’n enorme finansiële knou gekry en baie van hulle kon nie kop bo water hou nie. Dis ’n hartseer tyd vir ons bedryf en ons maters wat hierdie swaarkry vierkantig in die oë staar – wie hulle ook al is en waar hulle hul ook al bevind. Maar (en ja, ek weet mens begin nie ’n sin met “maar” nie, Ma) as daar een ding omtrent ’n Suid-Afrikaner is wat soos ’n paal bo water uitstaan, is dit sy vermoë om sy kop op te tel en vorentoe toe gaan. Hy gee dalk wel eers ’n hele klomp treë terug, maar feit is dat hy weer vorentoe sal gaan.
Hierdie tyd het my as persoon en ons maatskappy ook hard geslaan, maar ek wil deur hierdie artikel wys dat ek in alle situasies waarin ek of die mense om my gedompel is, gekies het om die positiewe raak te sien en sterker en vol moed anderkant uit te kom. Ek dink in hierdie artikel terug aan jagte wat reeds in my album of trofeekamer pryk. Ek verlang terug na Roxy, Rudi se ou steekhaarfoksterriër wat my eerste Oos-Kaap-bosbok saam met my gejag het.  Ek verlang terug huis se kant toe waar my kinders van twee, drie en vier jaar oud hul eerste springbokjag in hul volle kamoefleerdrag agter op ’n Hilux-bakkie meegemaak het. Ek verlang terug na koedoejag in Natal, die Molopo, Namibië en natuurlik in die Bosveld teen die Limpoporivier tussen Botswana se grootvoete. Ek verlang na die Karoo – daar waar niks gebeur nie en dan hou dit gewoonlik vir drie dae aan. Daar waar mens sommer kan besluit jy ry nie môre huis toe nie; jy gaan nog ’n dag net hier “wees” . . .
So met die verlangery hunker ek sommer ook terug na my skooldae: Die eerste alleenjag met pa se .308 Win daai tyd. En bloupak; ek dink dit was “one-eighties”. Ja, dit moes gewees het; ons het koedoes gesoek op oom Gert se plaas daar in Amalia se rant, ek en my boesemvriend, ou Stan. Ekhet nooit geweet twee tawwe st. 8-rugby-ysters kan ’n tweemantent lê dat daar plek is vir nog ’n man weerskante van hulle nie, en dít net oor ’n paar jakkalse wat so effens te naby aan die tent geskrou het . . . Hel, dit was lekker tye. Terug huistoe met ’n rooibok en nie ’n koedoe nie, maar dis ’n storie wat ek saamvat graf toe eendag en niemand kan hom wegvat nie. Die lesse wat geleer is van daardie dag af tot waar ek vandag hier sit en skryf, kan geld sweerlik nie koop nie.
Mens was bevoorreg om in sulke omstandighede groot te word met hierdie passie vir jag waarvoor jy so bitterlik lief raak. Wat ’n voorreg om keuses in my loopbaan te kon maak wat daartoe gelei het dat ek my vandag in ’n beroep bevind waar ek elke week van die jaar my passie kan uitleef.  En die vlammetjie wat daardie droom aanvuur, aan te hou blaas – nie net vir myself nie maar ook vir ander.
Ons het jare terug by WILD & JAG ’n besluit geneem om ’n leefstyl aan ons lesers te bemark. Jag is nie meer seisoengebonde soos in die ou dae nie. Suksesvolle boerderypraktyke en wetgewing stel ons in staat om 365 dae van die jaar te jag. En ons leef dit uit; ons saam met ons lesers. Manne en vroue wat net lesers was, is nou vriende – ’n paar van hulle sommer bitter goeie vriende.

Diegene wat een of twee keer ’n jaar gaan jag het, maak nou tyd vir ’n ekstra trippie of twee. Ander maak nie meer trippies nie, maar stel hul visier op sekere spesies, areas en jagmetodes om soveel moontlik uit die ervaring te haal – om die spreekwoordelike pitkos bymekaar te maak vir wanneer hulle dit nodig mag kry, hetsy vir volgende Saterdag se braaivleisvuur by ’n goeie maat se huis of dalk op ’n siekbed baie jare vorentoe.
Ek dink dis die grootste rede waarom ek en sekerlik ook baie van ons lesers en maters so half bedruk en vasgevang voel. Ja, 2020 gaan ’n taai een wees, maar soos ons ONBP-dosent mnr Meintjies eendag op die PUK in een van die min klasse wat ek bygewoon het, gesê het: “Daar bestaan nie ’n ding soos ’n probleem nie; mens noem dit ’n uitdaging.” Terloops, ek het nie klas toe gegaan om iets oor ondernemingsbestuur by daardie dosent te leer nie; dis wyshede soos dié wat jongmense help vorm en lei om in sekere rigtings te dink. Maak ’n punt daarvan om nie die kans te mis om waardevolle lesse by sulke mense te leer nie. Hulle is oral om ons, van ons skooljare af tot vandag toe, selfs in jou eie werkplek. Let veral op as jy weer in die Karoo of Noord-Kaap jag – daardie ou omies wat so stil
langs die vuur sit en nie so baie soos ons grootbekke lawaai nie; luister maar die slag as hulle iets sê . . .
Daar dwaal ek nou heeltemal af. Ek wou nog oor ’n belangrike ding gesels wat ek tydens die Covid-19-pandemie en veral die 2020-“lockdown” geleer het. Ek het besef daar is dinge wat ek nog wil doen en die feit dat 2020 volgens wet nie my jaar mag of gaan wees nie, het my laat wakker skrik. Ek praat nie nou van dinge nie; dis ’n gesprek vir ’n klein vuurtjie en ’n groot glas. Ek praat van jagtogte, plekke waar ek nog wil gaan jag. En nee, ek praat nie van Lord Derby-elande en Tanzanië-olifante nie; ek praat van ’n rooiribbok in Harrismith se berge. Dalk met ’n perd of miskien net met ’n geweer en rugsak. Ek praat van die verskillende bosbokke in al die provinsies waar hulle voorkom, om van jagmetodes nie eens te praat nie. Ek los dit vir volgende maand. Nou verlang ek éérs terug . . .
Ek is hierdie vraag al meer as honderd keer in my lewe gevra en die antwoord skiet gewoonlik uit my mond nog voor die arme mens klaar gepraat het: “Die Kalahari.” Die vraag is natuurlik dat indien ek een plek moes uitsonder, waar sal ek gaan jag? Die Kalahari is ’n sielsplek. Dis ’n plek waarmee jy as jagter óf gaan trou óf dis nie eintlik vir jou nie. Daar is nie ’n tussenin nie. Die Kalahari werk nie so nie. Daai rooi sand praat met jou op ’n manier soos niks anders op die pragtige aardbol van die Oubaas ooit met jou sal kan praat nie. As jy in die diep suide van Namibië of die perfekte strate van Askham se wêreld is, oorval die grootsheid van die skepping jou in totaliteit. As jy Van Zylsrus-hotel se rekening betaal het en jy stoot aan na jou bestemming, gaan niks maar niks jou meer pla nie, “come hell or high water”, want jy is op pad Kalahari toe, jagveld toe. Springbokke en kameeldorings wag op jou. Jy is op pad na oom Ronne Piet of oom Hantie of die Engelse (daai tipe Engelse wat nie ’n woord Brits kan praat of verstaan nie). Daardie gebruiklike tradisies wat wissel van jagspan tot jagspan begin nou intree. Daar word by die ou kameeldoring langs die grondpad ’n paar kilometer voor die plaas se afdraai stilgehou. By sekere groepe manne word ’n donkergroen bottel met ’n takbok daarop dan uitgehaal. By hierdie boom is daar oor die laaste dekades al dosyne biere geknak en

hier het manne saam gestaan en kuier en lag, manne wat ons oor die jare finaal gegroet het in hierdie tydelike lewe wat ons ken en so innig liefhet. Almal neem dan ’n oomblik en onthou daardie manne – manne wat ons ook vanaand om die kameelhoutvuur weer gaan onthou…
Ou Kalahari, ek mis jou my maat, maar ek sal jou weer sien. Al is dit met ’n kraakvars hemp waarop die geborduurde 2020-datum pryk, ek sal jou sien. En ek sal my kouse aspris nie in my jagsak pak nie, want in die Kalahari dra ons kort vellies sonder kouse.

Maar ook net die eerste dag. Van daar is dit sommer tone in die rooisand – daai tipe sand wat wonde toewas, gebroke drome weer heelmaak en ’n man se siel daar diep binne weer kan vol “charge” . . . Daar waar ’n man agter op ’n Land Cruiser onder ’n 300 jaar oue kameeldoring saam met jou beste maters, jou seun of jou pa die genade van die Oubaas weer van voor af soos ’n kind kan ontdek . . . Ek mis jou, my maat, maar ons sien mekaar weer voor . .

BACK TO ARTICLES