’n Mens ervaar in jou leeftyd baie “eerstes” – jou eerste meisie of kêrel, jou eerste soen. Dan is daar die belangrike dinge in die lewe – jou eerste groot eksamen, die eerste keer alleen agter die stuur van pa se bakkie, jou eerste ID en die eerste keer wat jy jou bestuurslisensie vashou.

Links na regs: Ben Anderson, Kobus Robbertze, Johann Marais en Sakkie van Rooyen

Dit is alles dinge wat ’n mens vir lank onthou. Vir jagters is daar egter ander, groter “eerstes” – die eerste jag saam met pa, die eerste bok, die eerste rou lewer en sout, die eerste van elke spesie …
Net so was die SA Sport- en Jagfederasie (SASJF) se 2019 Nasionale Geweerjagkampioenskap ook in meer as een opsig ’n eerste. Vir die lede wat Noordwesprovinsie verteenwoordig het, was dit ’n enorme voorreg. Ben Anderson, Johann Marais en ek het vir die eerste keer aan hierdie gesogte kompetisie deelgeneem. Kobus Robbertze het al vantevore aan die boogjagkampioenskap deelgeneem, maar nog nooit aan die geweerjagkampioenskap nie – voorwaar ’n groot eerste.
Ons manne het by die mooiste stukkie “hemel” in die Bosveld op William Botha se plaas tuisgegaan. Die lodge lê teen die walle van die Limpoporivier en het ’n standhoudende dam wat vir asemrowende sonsondergange sorg.
Kort nadat ons al die bagasie afgelaai het, is ons skietbaan toe om te sorg dat die gewere reg ingestel is. Sesambos-gholflandgoed, wat ook aan die walle van die Limpoporivier geleë is, was ons tydelike hoofkwartier vir hierdie jagtydperk. Woensdagaand het almal baie lekker saamgekuier en die feesmaal geniet wat deur die landgoed se eienaars voorgesit is. Francois Pretorius, die hoofbeoordelaar vir 2019, het die inligtingsvergadering gelei en alle struikelblokke en vrae is uit die weg geruim. Daarna kon die jag in alle erns begin.

Die span moes douvoordag opstaan om die 14 km tot by die slagkamer aan te pak, wat ook die vertrekpunt was. Gedurende die eerste dag se jag het dit besonder goed gegaan. Ben het ’n rooibok geskiet, wat aan hom ’n punt van 12.4149 besorg het. Johann het ’n rooibokram gejag en só ’n punt van 12.0957 verdien, terwyl Kobus se rooibok 13.6140 punte werd was. Ek het ’n koedoekoei platgetrek wat die skaal op 124 kg laat kreun het en vir my ’n punt van 15.2000 in die sak gebring het. Later daardie dag het Ben nog ’n rooibok gejag.
Die tweede dag het ek en Johann elk ’n kamp op Freddie van Eik se plaas, ’n gewone beesplaas, getrek. Die wild loop vrylik daar rond en beweeg maklik van een plaas na ’n ander. Ben het daarin geslaag om ’n baie mooi gemsbok te skiet en daarmee ’n punt van 13.6406 verdien. Kobus het ’n rooibokooi platgetrek wat vir hom 13.5000 punte werd was. Ek en Johann het ongelukkig met leë hande teruggekeer kamp toe.

’n Trotse Sakkie van Rooyen by sy wenkoedoekoei

Kobus Robbertze met sy mooi rooibok

Ben Anderson met sy wengemsbok

Die derde dag van die kampioenskap het aangebreek en die spanning was op almal se gesigte leesbaar. Later die oggend het ek ’n rooibokooi platgetrek en volpunte (14.000) vir die jag behaal. Met die vorige jag se sukses nog vars in my geheue, het ek asook die ander lede besef dat ek nou aan die wenner se deur klop. Soos die noodlot dit wou hê, het ek laatmiddag ’n trofeetakbok probeer jag, maar ’n sekelbosstam het ’n misskoot veroorsaak. Johann het daardie dag ’n rooibokram geskiet en daarmee ’n punt van 13.6277 in die sak gehad.
Saterdagaand tydens die prysuitdeling het Noordwes se manne pryse vir die volgende ontvang:
– Ben Anderson – hoogste gemsbokpunt
– Sakkie van Rooyen – hoogste koedoepunt
– Sakkie van Rooyen – hoogste punt op ’n enkeljag

Eerstes is dinge wat ’n mens baie lank onthou en 2019 se Nasionale Geweerjagkampioenskap tel beslis onder hulle!

Ben Anderson (regs) – hoogste gemsbokpunt

Sakkie van Rooyen (regs) – hoogste koedoepunt

Die manne wat Noordwesprovinsie verteenwoordig het

Back to articles