Stefan Fouché

Die derde Safari Outdoor Nightforce Gong Challenge is op 21 September vanjaar by Oppieplaas net buite George in die Suid-Kaap aangebied. Die oggend voor die groot, jaarlikse skietbyeenkoms was die opgewondenheid en spanning byna voelbaar. Al die groot kanonne was reg om die dag aan te pak met alles wat hulle en hul toerusting kón bied. Daar was nie net meer as ’n kwartmiljoen rand se pryse, geborg deur Inyathi Sporting Supplies, op die spel nie, maar ook die spreekwoordelike bragging rights wat aan die wenners die reg gee om die volgende 12 maande met breë borskaste rond te loop!

Die verdedigende kampioene, Die Wenspan, op baan 2 met Jacques du Plooy wat aanlê. Daan Griesel hou Christo Delport se geweer vas terwyl hy help somme maak. Stephan van Wyk help vir Jacques wind lees en gee raad oor reeds geskatte afstande deur te kyk waar die koeël die ghong tref. Spanwerk is bitter belangrik tydens dié soort kompetisies.

Die Nightforce-ghonguitdaging het begin as dié kompetisie op die jaarlikse kalender met seker een van die grootste prysuitdelingstafels van enige skietbyeenkoms in die land. Dit gaan beslis nie net oor die pryse nie, maar ook oor wie met die louere wegstap. Met skuts van hierdie kaliber wat jaarliks deelneem, word die standaard van die kompetisie elke jaar na die volgende vlak gevoer.
Hoewel baie mense dink dis nie ’n goeie ding om so ’n dag te bevorder in terme van die aantal deelnemers nie, verskil ek sterk hiermee. Hierdie en ander soortgelyke skietkompetisies het tot gevolg dat die deursneedeelnemer se vaardigheid in so ’n mate verbeter dat daar al hoe meer spanne is wat ’n bedreiging vir die tradisionele topspanne inhou. Gevolglik moet die topskuts deurentyd hul sokkies optrek om te bly presteer as mens na die telbord kyk. Hul toerusting moet dus ook op datum bly en hulle gebruik elke bietjie hulp wat hulle kan kry deur voortdurend hul skietopset te verbeter. Die poel van topskuts word dus elke jaar ’n bietjie groter en die kompetisie al hoe strawwer. Sommige reken dat dié soort kompetisie tussen die groot kanonne nuwelinge in die sport afskrik. Een ding wat die organiseerders van die Nightforce-ghonguitdaging reg gedoen het, is om die inskrywings in twee kategorieë te verdeel: die kompetisieklas vir die ystermanne en die jagtersklas vir gewone skietentoesiaste wat van jagters tot geleentheidskuts wissel. Die kompetisieklas vereis dat indien jy twee of meer skuts in jou span van vier het wat Provinsiale Kleure in jaggeweerskiet verwerf het, jy in dié bepaalde klas moet deelneem. Dit het baie goed gewerk en die spaninskrywings vir die dag het dit duidelik bewys. Die helfte van die spanne het vir die kompetisieklas ingeskryf en die ander helfte vir die jagtersklas. Inyathi Sporting Supplies het ook nie lyf weggesteek tydens die prysuitdeling nie en die jagtersklas het bykans die helfte van die totale pryse (in randwaarde) ingepalm.

Team Savage tydens die 2019 Safari Outdoor Nightforce-ghonguitdaging. Van links na regs is Vaalseun Enslin, Jaco Brink, Oscar Haugen, Jacques Obermeyer en André Volschenk. Hierdie manne skiet almal met Savage-gewere in 6mm Creedmoor, GRS-kolwe en Nightforce ATACR-teleskope. Oscar is die eienaar van GRS-kolwe in Noorweë en het nie net die dag bygewoon nie, maar ook saam met die Inyathi-manne van Pretoria deelgeneem. Hy het ook gesorg vir nege GRS-kolwe op die prystafel!

Die weersomstandighede was so na aan perfek as wat kon kom. As sekere skuts meer as 1 MOA vir windsprong (wind shift) moes toelaat, sou dit op sekere bane die uitsondering wees. Die bepalende faktor tydens die 2019-ghonguitdaging was definitief die afstande. Met slegs die riglyn van 150–450 m wat aan die skuts bekend was toe die inskrywings geopen het, het Jimmy Farnam (Suid-Kaap) die skuts se afstandskatvermoëns tot die uiterste beproef. Berge en dooie grond het glad nie sake vergemaklik nie en die tellings het dit mooi weerspieël. Elke span het foute begaan en die span wat sy foute kon beperk of regstel, se punte het dit ook so gereflekteer. Die kompetisie was werklik op ’n hoër standaard in terme van die uitdagingsvlak. Ek moet egter in dieselfde asem noem dat geen skietposisie onrealisties of uitermate moeilik was nie en dít is waaroor dit gaan. Elke skut se eie vermoë sowel as die span in geheel is tot die uiterste beproef, maar elke spanlid het elke keer die geleentheid vir ’n stabiele skoot gehad.

Die ghonge op baan 1 was ver, met slegs een onder 300 m en drie verder as 360 m. Die posisie was wel baie stabiel en al vier skuts het oor sandsakke teen ’n kontoerwal aangelê. Baan 2 se posisie was redelik uitdagend – al vier spanlede moes gelyk agter op ’n Land Cruiser staan en skiet. Hoewel hulle oor ’n stewige bakkiejagraam kon aanlê, was die ghonge ver; daar was nie een ghong onder 300 m nie en die verste een was op ’n allemintige 386 m. Op baan 3 moes al die skuts sit, elkeen met ’n verskillende rus. Hier was die verste ghong op 305 m. Baan 4 was seker een van die makliker bane met vier baie stabiele rusposisies vir elke spanlid, wat oliedromme en kabeltolle ingesluit het. Die afstande was tussen 270 m en 320 m, met een ver ghong op 367 m. Op baan 5 het deelnemers vanuit die lêposisie geskiet en die skuts sowel as die ghonge was taamlik wyd uitmekaar versprei, wat beteken het skut 1 en skut 4 se afstande kon in sekere gevalle met soveel as 25 m verskil. Daar moes dus kopgehou word en almal kon nie dieselfde afstande gebruik
nie. Die manne moes ook nogal hul stemme verhef om mekaar te hoor, wat verder tot die baan se moeilikheidsgraad bygedra het. Alles kom hier weer op afstandskatting neer, want die naaste ghong was op 320 m en die verste een op 377 m, wat die ruimte vir foute baie beperk het. Die laaste baan is oor trekkerbuitebande geskiet en hier was al vier veldskietposisies verpligtend, naamlik lê, sit, kniel en staan. Die afstande was 217 m, 354 m, 304 m, 168 m en 265 m.

Die damespan Wildcats wag hul beurt af by baan 4. Van links na regs is Erna de Villiers, Amanda Lerm, Janine Nigrini en Endre Meyer. Die konstante deelname van dameskuts soos dié tydens skietdae het van die groot spanne al op hul neuse laat kyk. Hulle het ook algeheel 4de in die jagtersklas geëindig.

Casino Wolves – wenners in die kompetisieklas. Vlnr: Marius Moolman, Francois Martins, Johan “Boer” van Niekerk en Elton Gross. Hierdie span van Mpumalanga is die laaste paar jaar vuurwarm by verskeie skietbyeenkomste.

Aim, Hold, Send It – wenners in die jagtersklas. Vlnr: Tommy Dixon, Johan du Plooy, Raynor Becker en Johan Delport.

Welgedaan aan al die organiseerders, veral Jimmy Farnam, Jacques du Plooy en Christo Delport. Dit was ’n baie lekker byeenkoms wat seepglad verloop het. Die plek waar dit gehou is, was ook ideaal en die kos uitstaande. Die baanoffisiere verdien beslis ook ’n pluimpie in die hoed. Hulle het hul uitstekend van hul taak gekwyt en ’n reuse-aandeel in die sukses van dié groot dag gehad.
Ons sien mekaar beslis weer volgende jaar in die Kaap vir ’n skietnaweek propvol pret!

Een van die spanne hou ’n ernstige beplanningsessie by baan 4 terwyl ’n ander span die ghonge aandurf.

Back to articles