Die negende jaarlikse RS Sports Precision Shoot is op 14 September vanjaar by die Excalibur-skietbaan net buite Welkom gehou – die grootste ooit sedert dit die eerste keer aangebied is.

Die inskrywings het reeds ’n volle 30 dae voor die byeenkoms volle kapasiteit bereik, met 294 skuts wat geregistreer het. Die bestuur het daarna nog plekke beskikbaar gestel om verdere inskrywings te akkommodeer, met 378 teikens wat op die dag geskiet is.
Die Excalibur-skietbaan is vir seker die beste toegeruste baan in die land. Die IGRF Wêreldkampioenskappe vind ook einde Oktober vanjaar daar plaas.
Vanjaar se RS Sports Precision Shoot het bestaan uit groeperingskiet wat op 200 m geskiet is, met russe en sandsakke wat deur RS Sports & Outdoor verskaf is. Twee groeperings is geskiet – vier skote plus een van drie skote. ’n Totaal van sewe skote is per aflos geskiet, waarvan die ses bestes gemeet is. Die totaal is daarna deur twee gedeel vir die beste, kleinste, gemiddelde groepering.

Die dag is soos altyd baie goed ondersteun deur al die groot verskaffers soos Inyathi Sporting Supplies, Formalito, Whylo Optics, National Cartridge, SSG Cases, Nobleteq en Rudolph Optics. Sonder die hulp en bereidwilligheid van die borge sou hierdie skietbyeenkoms nie moontlik wees nie. Op die kompetisiedag is R200 000 se pryse oorhandig aan die 20 topskuts, asook aan die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) se junior streekskietwenners.
Die skietdag het om 08:00 begin en om 14:58 is die baan veilig verklaar, met 378 skuts wat sonder enige voorvalle deur die dag deelgeneem het. Hierdie skietbyeenkoms is die grootste in sy soort in Suid-Afrika en is uitstekend georganiseer. Dit sal aanstaande jaar weer vroeg in September plaasvind. Sien julle daar!