Stefan Fouché l Foto’s: Amanda Lerm & Libre Genis

Die Eeufees militêre skietbaan was vanjaar die nuwe tuiste van die jaarlikse Dangerous Game Shoot (DGS) wat deur Safari Outdoor aangebied word. Met ’n beperkte aantal van 120 inskrywings wat binne 48 uur uitverkoop is, is dit duidelik dat hierdie skietbyeenkoms baie gewild onder grootkaliber-skietentoesiaste is. Tydens die 2019-byeenkoms is die standaard sonder twyfel weer eens verhoog.

Die dag is op die gepaste manier geopen deur Bryan Betton, voorsitter van die International Big Game Rifle Club en medeorganiseerder van die DGS. Die ander organiseerders het vlugtig die baanuitleg en reëls bespreek en die skietkompetisie het om 8.15 vm afgeskop. Die veld van 120 deelnemers is in ses groepe van 20 verdeel, wat tussen die ses bane geroteer het. Dit het voorkom dat ’n bottelnek ontstaan en gevolglik is die skietdag voor 3 nm afgehandel. Kortom gestel, dit het seepglad verloop.
Op die eerste baan was ’n buffel op sowat 18 m en skuts moes hier twee brein- en twee lyfskote teen tyd skiet. Die tweede baan was ’n seekoeibaan waar deelnemers eers op ’n stilstaande seekoei op ongeveer 6 m moes aanlê, en dan op een wat nagenoeg 20 m ver geplaas is. Sodra die tweede skoot geloop het, het die seekoei in ’n reguit lyn op die skut afgestorm. Dit het groot opwinding veroorsaak, nie net vir die skut nie, maar ook vir die toeskouers. Die stophorlosie het ook gesorg vir ekstra adrenalien en skuts het hierdie baan baie geniet.

Op die derde baan was die uitdaging ’n renoster op die teikens, wat vir feitlik al die skuts ’n splinternuwe teiken tydens ’n DGS was. Twee verskillende teikens is gebruik en die skut moes twee breinskote op sowat 7 m skiet, ook teen tyd. Die tweede teiken het ’n hart- en breinskoot op nage-
noeg 15 m behels, maar dié klein teiken het veroorsaak dat ’n renoster van realistiese grootte op ±50 m sou staan. Op baan vier moes skuts twee skote sittend skiet en die laaste twee vanuit ’n staanposisie op ’n luiperd vanuit ’n skuiling. Die skietafstand was ’n raps oor die 20 m. Die laaste twee skote is gevuur op ’n luiperd wat agter ’n bos verdwyn, met slegs sy heupe en rug wat uitsteek – dus weer eens ’n nuwe teiken vir al die deelnemers. Hierdie soort verrassings dra tot die sukses van die skietdag by, waar deelnemers besef hulle moet vir enige situasie gereed wees. Op hierdie manier leer mens die geweer wat jy wil gebruik om gevaarlike wild te jag, al hoe beter ken en dít onder druk.

Jérôme Lanoue van Verney-Carron wys die pragstukke wat hulle in Frankryk met die hand bou aan drie deelnemers.

Baan vyf het baie van die nuwe skuts uitgeboul wat nie daarvan bewus was dat mens, soos met elke DGS, meer as een geweer op die dag mag gebruik nie. Safari Outdoor het hierdie inisiatief juis begin om jagters aan te moedig om meer as een groot kaliber aan te skaf. Menige skuts het dit op die dag besef, waar sommige gepoog het om die krokodil op 70 m met oop visiere aan te durf. Die baan het ook ’n tydsbeperking van 30 sekondes gehad, wat veroorsaak het dat die manne se vingers dom geraak het met die laai van hul gewere. Die meeste skuts kon net drie van die vier skote aftrek en sommige selfs minder. Dié wat wel al vier skote kon vuur, het akkuraatheid ingeboet. Hier was ook ’n geborgde Swarovski CL Pocket 10×25 deur Whylo op die spel vir die skut met die kleinste vierskootgroepering, waarvan minstens een skoot die tel-area moes raak.

Tydens die aflos op die buffelbaan was daar vier skuts, elk met ’n Verney-Carron in .500 NE-kaliber.
Lnr: Willem du Plessis, Ronald Nel, Stefan Fouché en Marco van Niekerk saam met die twee Hornady-baanoffisiere.

Die laaste baan is deur die Big Bore Association of South Africa (BASA) aangebied en drie verskillende olifant-teikens is gebruik. ’n Totaal van agt skote is teen tyd geskiet, wat beteken het daar is tot laataand klagtes oor gebrande hande en blougeskopte skouers uitgeruil! Dit was ’n besonder lekker baan wat skuts veral vir akkuraatheid en spoed getoets het – spoed in terme van beweeglikheid tussen drie skietposisies, asook herlaai- en oorhaalvaardigheid.

Sonder die hoofborge sou die dag nie so ’n groot sukses gewees het nie. Dit het as’t ware soos ’n skou gelyk met al die handelsmerke wat met hul produkte kom spog het. Formalito, Inyathi Sporting Supplies en Whylo was die groot borge met meer as R100 000 se pryse vir die wenners, asook gelukstrekkings. Inyathi en Formalito het ook ekstra bane gehad waar deelnemers tussen bane met semi-outo-matiese gewere en handwapens kon skiet. L&O, Aimpoint, SSG Rifle Cases, Woodleigh Bullets en Veld Tot Vurk-braai-speserye het ook uitgestal en pryse geborg. Libre Genis en Carla André, wat aan die stuur van al die organisasiewerk was, verdien spesiale vermelding. Die DSG-skietdag gaan elke jaar van krag tot krag en hul albei se insette is van onskatbare waarde.

Francois van Emmenis was die gelukkige wenner van die CZ 550 in ’n .375 H&H in die gelukstrekking. In die middel staan Marco van Niekerk van OIH en regs is Hancke Hudson.

Die “Halfmoon Club”. Dié manne het almal nader kennis gemaak met die teleskope op hul groot roere tydens die DGS. Die meeste insidente het op die krokodilbaan plaasgevind!

Die drie topskuts tydens die 2019-DGS. Bryan Betton, Jono Joseph (tweede), Arend Muller (wenner), Brett Mocke (derde) en Hancke Hudson

Die internasionale DGS sal in September 2020 in Darwin, Australië plaasvind. Safari Outdoor het aangekondig dat hulle voor dié datum die plaaslike DGS sal hou om diegene wat “Down Under” gaan deelneem, op die September-byeenkoms voor te berei. Willem Immelman van Safari Outdoor het ’n vliegkaartjie na die internasionale DGS geborg wat in die 2020 plaaslike DGS-gelukstrekking gewen kan word op die dag ná afloop van die kompetisie. Hou gerus WILD & JAG se sosialemediaplatforms dop vir die aankondiging van die 2020-skietdatums.

Daan Griesel met sy pasmaak-.416 Remington op die renosterbaan

Die res van die 10 topskuts tydens die 2019-DGS

Back to articles