Van Zyl Wait

Daar waar die teerpad eindig, is waar die lewe begin. Dis hoe dit vir ons klompie boogjagters van SA Sport- en Jagfederasie (SASJF) gevoel het toe ons links afdraai op die grondpad na Lapolosa Africa, die boogjagparadys in Botswana. Dit was ons eindbestemming, die plek waar ons aan SASJF se jaarlikse Interprovinsiale Boogjagkampioenskappe sou deelneem.

Org van Rooyen met sy pragtige rooibokram

Die gasvrye Cobus en Ulinda Smit het ons op dié 6 000 ha-plaas verwelkom. ’n Rooi 10 km-sandpad het ons na die tentkamp op die oewer van die Limpoporivier gelei, ons tuiste vir die volgende vier dae. Dié plek is ’n klein stukkie hemel so in die hart van Afrika waar jy in tente langs die Limpoporivier bly en met die hitte van ’n selfgemaakte donkievuur onder die sterrehemel stort.
Nadat almal nesgeskop het, is die boë uitgehaal en ’n paar pyle geskiet. Die opwinding was aan die opbou! Daar is sewe skuilings op die plaas: vier grondskuilings, twee wat effe gelig is en een boomskuiling. Laasgenoemde is nie vir sissies nie … Ek het my op dag 2 daar bevind en glo my, dis hóóg!
Op dag 1 was ons Bosveldwekker die getjank van ’n jakkals en gesnork van seekoeie. Ons het ’n blik koffie en beskuit langs die vuur geniet terwyl ons gewag het dat Cobus en sy handlangers ons kom oplaai. Met almal in die skuilings, moes daar geduldig gewag word. Dit is mos deel van boogjag – geduld, geduld en nogmaals geduld. Die horlosie se kort wyser het nog nie eens een maal ombeweeg nie, toe skiet JP Munnik al sy eerste rooibokram met ’n nekskoot vanaf ’n geligte staalstruktuur. Die horingafmeting was 214/16″.
David Guthrie was die volgende suksesvolle jagter met ’n baie mooi rooibokram wat hy op 21 m geskiet het. Met ’n perfekte dubbele longskoot het die ram nie 30 m gehaal nie. Sy horings het 239/16″ gemeet. Dag 1 se jag was ’n reusesukses en dié aand het almal staaltjies van die dag se gebeure om die braaivleisvuur vertel.

Van Zyl Wait by sy mooi rooibokram

David Guthrie met sy koedoekoei

Dag 2 was ek die wenner van die boomskuiling. Toe ek die staaltrappies wat aan die boom vasgepen is, begin uitklim, het ek begin wonder of dit ’n goeie idee is. My senuwees het geknaag en met elke trappie wat ek klim, het my harttempo met omtrent 10 slae per minuut gestyg. Toe ek uiteindelik bo kom, het ek besef dat ek nie sal kan staan en skiet nie. My bene het gebewe en dit was nie van bokkoors nie! Ek het die hele dag gesit en eers toe die son begin water trek, ’n bok geskiet. Dit was beslis ’n ondervinding wat ek altyd sal onthou!
Dieselfde oggend het David Guthrie sommer vroeg-vroeg ’n baie mooi koedoekoei platgetrek. Sy was besonder groot en het 115 kg uitgeslag. Met twee bokspesies wat beide hoë punte verwerf het, het David besluit om sy boog ’n rukkie vir ’n lyn in die water te verruil. Hy is met die grootste baber vir die naweek beloon.
Org van Rooyen het sy rekening met ’n baie mooi rooibokram geopen. Hy vertel dat daar so 50-plus rooibokke was. Skielik het hy die mooi ram op omtrent 40 m gewaar. Onthou, 40 m met ’n boog is lekker ver en dit vat ’n man van staal om ’n rooibok op so ’n afstand te skiet. Dié ram het hom 30 minute lank besig gehou. Op daardie stadium het ’n reuse-arend soos ’n engel van bo oor die trop bokke gevlieg. Die ram het vir ’n oomblik plankdwars gaan stilstaan met sy volle aandag op die voël gevestig. Instink het oorgeneem. Org het sy boog gespan en toe die pennetjie op die blad tot stilstand kom, het hy die pyl laat vlieg. Kolskoot!
Dag 3 het ons leeus aan die ander kant van die Limpopo-rivier hoor brul. Daardie oggend het ons self ook van die koue gebrul. Met die meeste jagters op soek na ’n ander spesie as ’n rooibok, veral ’n groter spesie, was die afwagting groot. Party manne het hul tande geslyp vir die misterieuse, groot elandbulle waarvoor Lapolosa so bekend is, maar ongelukkig was dit niemand beskore nie. Ek het self die hele dag niks geskiet nie. Troppe en troppe rooibokke, sebras, wildebeeste en koedoes het ingekom, maar die regte geleentheid was net nooit daar nie. Christo Pretorius sr het op hierdie dag sy rooibokooi met ’n netjiese, dubbele longskoot geskiet. Die ooi het 22,6 kg uitgeslag.

Hoewel die elandbulle ons hierdie jaar ontwyk het, was die naweek ’n groot sukses. Boogjag leer mens ’n paar belangrike lesse – oneindig baie geduld, waardering vir die natuur, hoe om te luister en waar te neem, toegewydheid en aanhouer wen. Die manne van SA Sport- en Jagfederasie se gedagtes reis al klaar na die volgende keer …

Back to articles