CZ 455 ThumbholeYellow

Krismis is om die draai! Hier is nou vir jou ’n parmantige twee-tweetjie wat ’n man eenvoudig net móét hê. Dit is gelaai met die regte eienskappe en is boonop ’n CZ – een van die betroubaarste en mees erkende handelsname in Suid-Afrika. Die sneller, ’n nuwe vlieggewig-eenheid, is sensasioneel. Dit kan verstel word van 1 tot 5 newton en kan opgestel word as ’n 2-fase-sneller, waarvan die 1ste en 2de fases afsonderlik gestel kan word vir afstand en gewig! Die gehamerde, gegroefde (fluted) loop van 525 mm het ’n tromprem (muzzle brake), gereed vir ’n knaldemper. Die kolf is gemaak van topklas gelamineerde hout in swart en geel, met ’n regterhandse duimgat. Die snellerskerm en magasynbasis is gemaak van Duralumin en in geel geanodiseer (anodised) om die pakket te voltooi. Dié geweertjie is gebou om raak te skiet!

Die .22L doen so ’n bietjie weg met die ou, tradisionele voorkoms en helder die geweerrak mooi op. Dit verdien beslis die BAKGAT-stempel.

Die CZ 455 Thumbhole Yellow word ingevoer en versprei deur Formalito (tel: 012 664 7793/4/ www.gunsandammunition.co.za). Dis beskikbaar by uitgesoekte handelaars soos Safari Outdoor (tel: 087 0751398 / www.safarioutdoor.co.za).

Bergara BA13 Take Down

Die Bergara BA13 Take Down is spesiaal ontwerp vir maklike vervoer en puik akkuraatheid en is ideaal vir die beginner tot die gesoute jagter. Myne is in .300 Blackout en ek vind dit ’n puik kombinasie as ’n jaggeweer vir kinders, ’n sagte kaliber en ’n ligte geweer met ’n eenvoudige, veilige laaimeganisme. Jy kan nie beter as die BA13-model kry as jy ’n werklik subsoniese geweer soek nie. ’n Mens kan die vuurwapen in sy hoofdele opbreek vir vervoer en weer maklik aanmekaarsit met geen verlies aan akkuraatheid nie. Die reeks het ’n Picatinny-basis wat reeds op die loop gemonteer is. Die BA13-reeks het ook oop visiere wat verwyderbaar is vir teleskoopmontering. Dit het reeds ’n skroefdraad vir ’n knaldemper of tromprem (muzzle brake). Die snellersisteem is puik met ’n hamer wat maklik oorhaal of ontlaai. Verskeie kalibers is beskikbaar, soos .222 Rem, .243 Win, 6,5x57R, .300 AAC Blackout, .308 Win,
.30-06 SPFD en .45-70 Govt.

Met ’n kleinhandelsprys van R12 500 verdien die Bergara BA13 Take Down beslis die BAKGAT-stempel.

Dis beskikbaar by uitgesoekte handelaars. Skakel ook gerus die verspreider, Kalahari Arms, by 011 795 1100 of besoek hul webwerf www.kalahariarms.com.

Caldwell brass catcher

Hierdie oulike stukkie apparaat is ’n semi-outomatiese geweereienaar, wat self herlaai, se droom. Geen doppe meer wat wegraak of in die sand val nie. Elke doppie word netjies in die net gevang wat oor die bek van die aksie sit waar die leë doppies uitgespoeg word. Dit is beskikbaar in twee modelle – een wat met Velcro om die kolf vasgemaak word (soos op meegaande foto) en een wat fisies op die Picatinny-spoortjie vasklamp. Eersgenoemde werk lekker indien jy dit vinnig wil verskuif. Daar is ook ’n gemaklike ritssluiter aan die onderkant om die leë doppies uit te kry sonder om die hele vangtoestelletjie te verwyder.

Hierdie stukkie apparaat spaar tyd en definitief geld (verlore doppies). Dit verdien beslis die BAKGAT-stempel! Die aanbevole verkoopprys is R1 000.

Die Caldwell brass catcher word ingevoer en versprei deur Inyathi Sporting Supplies (tel: 012 808 9911 / info@inyathi.net). Dis beskikbaar by uitgesoekte handelaars. Skakel gerus vir Inyathi om te hoor waar jou naaste handelaar is wat die Caldwell-reeks aanhou.

Back to articles