Diaan Myburgh

’n Groepie junior jagters, ouers en beamptes van die SA Sport- en Jagfederasie (SASJF) het op 1 Mei, die eerste dag van die 2019-jagseisoen, vir die nasionale junior jagkampioenskap saamgetrek. Die deelnemers het vroeg by Boschrand Lodge net buite Winburg opgedaag om die boskamp te betrek en mekaar te groet. Die opwinding was groot aangesien die seuns- en dogterwenners vanjaar elk ’n Howa-jaggeweer in .243 Win as eerste prys sou ontvang. Hierdie prys is deur Wildman van Nelspruit geborg. Ná ’n paar laat onttrekkings, het slegs ses junior seuns- en dogterjagters deelgeneem. Die Vrystaters was CJ Oertel, Juan Bredenhann, Hennie Bredenhann jr en Zante Oertel. Zane Potgieter het Mpumalanga Laeveld verteenwoordig en Alexander Hartslief vir Limpopo.

Kobus Rossouw, nasionale jagkoördineerder van die SASJF, se moeite met die reëlings om ’n goed toegeruste jagkamp en geriewe te kies, het reeds vroeg aanklank gevind. Vroegaand het die groep by die lodge se hoofgebou byeengekom. Dennie Taljaardt, SASJF se president, het die jagters verwelkom. Die hoofbeoordelaar vir die geleentheid, Christo Pretorius van Limpopo, het die jagters en hul ouers oor vuurwapenveiligheid voor, tydens en ná die jagte toegespreek om toegerus te wees vir die volgende paar dae. Die SASJF se reëls is ook bespreek rakende lootjies vir voorsitposisies, gedrag in die veld en optrede in geval van ’n moontlike kwesbok. Die rol van die ouers wat saam met die jong jagters by die voorsitplekke sou sit, is ook bespreek.

Die jagters is vroeg die eerste oggend deur digte mis in die laagliggende gedeeltes van die Laaispruit en die vleilande verwelkom. Dié spruit loop in die Klein-Vetrivier, wat die hoofvoedingsbron van die Erfenisdam by Theunissen is. Danksy die welkome reën in die omgewing in die dae voor die jag, het die spruit wat die plaas verdeel, nog sterk geloop. Geen voertuie en jagters kon met die plaas se pad en voetpaaie deur die spruit beweeg nie. Daar is die vorige dag reeds besluit om eers die voorsitpenne duskant die spruit, aan die lodge se kant, in te slaan. Intussen sou die grondeienaar poog om die ompad wat deur die verspoelings beskadig is, te herstel sodat die oorkant van die plaas later die dag bereik kon word.

Die eerste drie bokke – twee rooibokramme en ’n swartwildebeesbul – is kort daarna na die slagpale geneem. Dié dag het geëindig met drie springbokramme wat ook by die slagpale afgelaai is. Die tweede voorsitjag het weer ’n swartwildebeesbul en twee rooibokramme opgelewer, waaronder ’n springbok- en blesbokram en ’n blesbokooi. Teen die einde van die laaste voorsitjag die Vrydagoggend was daar nog ’n blesbokram, twee blesbokooie en ’n verdere twee springbokramme in die koelkamer.

Die beoordelaars – Christo Pretorius van Limpopo, asook ek en Deon Greyling (albei van die Vrystaat) – het by tye rondgespring met al die slagwerk, individuele versoeke vir kuipslag (caping), trofeemeting en ander karkasvoorbereiding. Hulle het die slagpale glad en professioneel bestuur. Alles in ag genome, het die nasionale junior jag goed verloop. Die jagdae is gekenmerk deur uitstekende Vrystaatse herfsweer, die beskikbaarheid van pragtige, topgehalte-wild, gefokusde deelnemers, ondersteunende ouers en hulpvaardige beamptes.

Zane Potgieter met haar springbokram

Die swartwildebeesbul met die langste horings het 27,6″ gemeet en is op die eerste dag deur CJ Oertel gejag. Zane Potgieter se swartwildebeesbul het ’n horinglengte van 27,4″ gehad. Zante Oertel se een springbokram van 11,9″ is vir die langste horings vir ’n springbok geregistreer, en Alexander Hartslief se rooibokram, met ’n horing van 21,6″, was hier die langste. Sy blesbokram se horings het 16,5″ gemeet. Hennie Bredenhann jr se blesbokooi, met horings van 15,1″, het aan hom die hoogste trofeepunt vir ’n blesbok besorg.

Deon Greyling was die gasheer by die prysuitdeling wat reeds vroeër die Vrydagmiddag kon plaasvind, aangesien die jagte en reëlings sonder ernstige haakplekke verloop het. Die president, Dennie Taljaardt, was aan die einde van die drie dae baie tevrede met die verloop van die jagkampioenskap en die deelnemers. “My hart lê by die blootstelling wat ons ons junior lede aan al ons aktiwiteite van die federasie kan gee.” Hy sê die jonger geslag skep nuwe energie en dit is ook waar die toekomstige leiers ontwikkel word. “Geluk en dank aan almal vir ’n goed georganiseerde toernooi.” Die hoofbeoordelaar, Christo Pretorius, het ook net lof vir die junior jagters gehad. “Die sportmangees en kameraadskap onder die jonges was ’n riem onder die hart. Die jong jagtertjies is die toekoms van SASJF en ek sien ’n toekoms vir die federasie met sulke opkomende jong manne en dames.” Hy sê die jagomgewing was ’n lus vir die oog en die gehalte van die wild was goed.

Die algehele wenner was Hennie Bredenhann jr, wat een van die geborgde Howa-jaggewere as eerste prys ontvang het. Zane Potgieter het in die dogtersafdeling met die louere weggestap en ook ’n Howa-jaggeweer gewen wat deur Marnus Prinsloo en Nolin Naude van Wildman in Nelspruit geskenk is. Hulle kan gekontak word by 013 741 5330.