Daleen Taljaardt

Tydens die SA Sport- en Jagfederasie (SASJF) se jagkampioenskap te Philippolis in die Vrystaat, sit ek in my skuiling met my flessie koffie en wag … Daar is geen beweging nie en niks in sig nie, selfs die voëltjies is vergete. My hart klop in my keel, want ek is opgewonde oor die nuwe dag maar tog ook benoud – dis die laaste dag van die kompetisie en ek kort nog ’n spesie om vir die kampioenskap te kwalifiseer.

Boodskappe kom deur op die telefoon: “Asseblief Daleen, jy moet skiet vandag.” Asof ek dit nie weet nie! Halfnege roep die natuur en ek gaan saggies na buite. Met my broek om my enkels hoor ek skielik die gedawer van pote wat klap. Ek is dadelik met los broek en al weer terug na my geweer! ’n Trop blesbokke kom nader maar bly heeltyd buite my gemaksone van ’n skoot aftrek en hardloop op ’n stywe pas verby. Sowat ’n uur later is daar ’n varkie wat inkom, maar ook dié vat gou die pad. So gaan my oggend van onsuksesvolle jag verby terwyl ek met my Vader gesels. Ek vertel Hom toe dat ons kompetisie om vyfuur die middag sluit en dis nou reeds tweeuur, maar as dit nou nie sy wil is dat ek ’n skoot moet aftrek nie, is dit ook maar reg so. In die volgende asem vertel ek Hom dat ek na aanleiding van my liefie en leermeester se raad ’n blesbok, vlakvark of springbok kan skiet. Pappa het ook vir my die volgende gesê: “As jy ’n blouwildebees kry, kan jy hom skiet, maar slegs tussen die oë en op ’n gemaklike maksimum van 100 m, maar probeer dit liewer vermy om met jou kaliber geweer ’n blouwildebees te skiet.”

Vieruur kom en gaan met nog niks in sig nie. En wat stuur Jesus toe vir my om halfvyf? ’n Blouwildebees! Die ou kom reguit op my afgeloop. Ek bars skoon in trane uit en sê: “Asseblief nie dit nie, Liewe Jesus ! Enigiets anders!” Ek gryp die verkyker en kyk na die veld met die hoop dat daar ’n ou varkie of ’n ander spesie staan, maar toe nie. Hoe meer ek vir Jesus vertel dat ek enigiets anders sal skiet, hoe meer kry ek antwoord terug: “Jy het gevra en ek het gegee. Wees gehoorsaam.”

Intussen loop die blouwildebees reguit na my skuiling toe. Ek lê aan op hom met geen idee hoe ver hy werklik van my af is nie. My rangefinder hang om my nek, skoon vergete! Dan gaan staan die wildebees stil en draai dwars. Ek dink nie eens ’n oomblik aan pappa se woorde van “tussen die oë” nie en maak gereed vir ’n hartskoot. Ek weet nou nog nie of ek my asem uitgeblaas of opgehou het nie, maar ek het die skoot afgevuur. My blouwildebees het net daar op die plek geval! Ek het dadelik oorgehaal terwyl ek deur die teleskoop kyk (net soos pappa my geleer het), ’n minuut of wat gewag en bly kyk na my wildebees wat daar lê. Daarna het ek my wapen beveilig en hulle oor die tweerigtingradio laat weet hulle kan my wildebees kom laai.

Met met my wapen gereed, stap ek toe na die bos waar die wildebees inmekaargesak het, maar daar is niks! Ek gaan sommer aan die grens en deur die trane vra ek: “Here, wat gaan nou hier aan? Ek was seker dis ’n doodskoot.” Ek stap toe verder na ’n ander bos, net om daar ook niks te vind nie. So soek ek die een bos ná die ander deur en beweeg al hoe verder van my skuiling af. Verskeie bosse verder (208 m van my skuiling om presies te wees) kom ek toe op my blouwildebees af en sien dit was ’n perfekte hartskoot! Dis die heerlikste gevoel om net daar op jou knieë te gaan en te sê: “Dankie Vader, dankie vir die hele dag se geselsies met U en dankie dat ek gehoorsaam was.” Hierdie pragtige dier het my gehelp om tweede plek in die kampioenskap te verower.