Stefan Fouché

“Soos ’n muis met slippers.” Ek is seker baie van julle het al dié gesegde gehoor én gebruik! Ek kan nou seker nie met ’n muis vergelyk word nie, maar een ding is gewis: Dié nuwe paar jagstewels het beslis soos slippers geloop tydens een van die wreedste jagtogte wat ek nóg moes deurmaak …

Die skoene is ’n Amerikaans-ontwikkelde produk en is eintlik aanvanklik vir die vlieghengelmark ontwikkel. Die stewels is bitter lig (totale gewig van ’n skoen is 370 gr) en het ’n baie goeie greep – enige visserman se droom. Boonop word hulle baie gou droog danksy die seilmateriaal waarvan hulle gemaak word. Met dié soort voordele het die invoerders van hierdie produk besluit hulle gaan die Suid-Afrikaanse jagmark probeer betree. Tesame met Safari Outdoor, wat hierdie stewels in al hul takke in voorraad hou, is dié handelsmerk werklikwaar besig om plaaslik vlam te vat.

My skoengrootte is soms ’n probleem, met die gevolg dat ek letterlik eers ’n uur voor my jagtog ’n stel van hierdie skoene in die hande kon kry om ’n tyd lank te dra en dan daaroor verslag te lewer. Dit het geen nut om ’n skoen net vir ’n naweek aan te trek en dan daaroor te probeer berig nie. Min het ek geweet hoe dié soort jag sou eindig …

Doer in die Bosveld tussen Ellisras (deesdae bekend as Lephalale) en Steenbokpan sou ek sweerlik my Heiland tussen al daardie sekelbosse leer ken! Die ou steweltjies is mos gebou vir lekker stap, nie om ’n sekelbos mee plat te trap nie, en ons almal het mos al daai enetjie voel brand … Die beplande jag (waaroor ons later in WILD & JAG sal berig) sou so drie of vier dae lank duur. Ek besluit toe om die skoene tydens hierdie jagtog te gebruik. Die volgende week sou ’n ses dae lange jag wees – twee mooi toetslopies om mee af te skop vir ’n lang gebruiksperiode. Ek het in die retail- of kleinhandelswêreld geleer dat dit een van die beste dinge is om skoene elke dag of twee te wissel en só jou voete baie te spaar as jy lank staan of ver loop. Ek het my ander twee pare stewels toe maar in die tas gelos en besluit om die Soft Science-“slippers” die volgende twee of drie dae te probeer. Min het ek geweet wat vir my voorlê …

Lang storie kort, die dier wat ons sou jag, het ons ’n volle sewe dae ontduik en ek het ’n totaal van 64 km afgelê, als met dieselfde paar stewels. Ek het nog nooit in my lewe so ’n harde jag ervaar nie, en dít boonop met ’n .500 NE oor my skouer. Die terrein was vir vier van die sewe dae ongenaakbaar, met klippe en berge. Ten spyte daarvan het ek nie ’n enkele aand met stukkende voete by die kamp aangekom nie en my moed het ook nooit in my stewels gesak as ek hulle soggens moes vasmaak en die dag aanvat nie. Ek was waarlik beïndruk.

Ek gaan hierdie skoene nog ’n hele ruk op die proef stel maar ná hierdie eerste ware toets kan ek eerlik sê dat ek nog nie baie skoene gedra het wat dieselfde kon vermag nie. Sand, berge, klippe, dorings en reën is getrotseer tydens die sewe dae lange jag en die skoene het die toets só goed geslaag dat ek die res van die jaar nie een jag met ’n ander handelsmerk sal aanpak nie.

Hou gerus WILD & JAG dop vir my verslag oor die Soft Science-jagskoene oor ’n jaar, dan sal ons weet of hulle gaan hou. Dat hulle egter werk, is ’n feit! O ja, wat die sekelbosse betref – ek kon in 64 km nie een raak trap wat deur my stewels gesteek het nie, maar my beurt sal seker kom!