Stefan Fouché

Die Safari Outdoor Nightforce-ghongkompetisie is vir die eerste keer in Gauteng gehou en dis vir seker nie die laaste een nie. Dit was een van die grootste ghongskietbyeenkomste ooit met 50 spanne van vier – ’n allemintige 200 skuts. Safari Outdoor moes op aanvraag van die skuts in die noordelike deel van die land oorweeg of hulle die gewilde Nightforce Kaap-skietkompetisie hier bo ook wou aanbied. Die feit dat inskrywings vir dié ghongskietkompetisie binne slegs drie dae uitverkoop is, bewys hoe gewild dié geleentheid is.

Dis nou maar eenmaal so dat ’n ghongskietbyeenkoms altyd lekker is. Dit is altyd uitdagend, want geen twee bane wat gebou word, is ooit dieselfde nie. Afstande en skietposisies maak dit vir die organiseerders moontlik om elke keer ’n nuwe kinkel in die kabel te veroorsaak. Dit inspireer skuts om keer op keer terug te keer om hul staal te wys en ook ’n bietjie aan hul persoonlike vaardighede te skaaf. Die feit dat Safari Outdoor byna ’n kwartmiljoen rand se pryse vir die dag borg, is beslis ook ’n groot trekpleister!

Okkie Scheepers het die dag vir Safari Outdoor gereël. Met die hulp van sy span het hulle hul nie net op die kompetisiedag goed van hul taak gekwyt nie, maar het voor die tyd ’n reusepoging aangewend om hierdie skietbyeenkoms op ’n ander vlak aan te bied. Een van die grootste bekommernisse tydens so ’n groot byeenkoms is of al die skuts betyds sal klaarkry voor die donker hul inhaal. Hoewel dit ’n sosiale samekoms vir baie is, is dit vir ander ’n dag van strawwe mededinging. Met die sewe minute wat elke span van vier het om hul baan te voltooi, moet ’n man maar roer om almal deur te kry. Okkie en sy trawante het egter hier die haas uit die hoed gepluk. Met ’n nuwe soort ghongraam en ’n refleksiebord kon mens eerstens maklik sien of die ghong getref is en tweedens het die ghong binne drie sekondes stil gehang sodat die volgende skut kon skiet. Die formaat van die gewone spanskietkompetisies soos ons dit leer ken het, is die afgelope paar jaar effens aangepas. In plaas daarvan dat elke spanlid eers klaar skiet voor die volgende man laat waai, het alle spanlede een ghong klaar geskiet en dan na die volgende ghong beweeg.

Die Casino Wolves het die tweede plek ingepalm.

Die 4 Eendjies het in die vierde plek geëindig.

Die Steel Snipers was derde.

Dit het baie tyd bespaar en sommige spanne het hul bane in so min as drie minute klaar geskiet.

Die baan se uitleg en afstande was tipies dié van ’n SA Jaggeweerskietvereniging-veldskietkompetisie, met uit-sondering van sowat drie of vier ghonge wat verder as die maksimum afstand van 350 m was. Dit is natuurlik binne die ghongskietkompetisies se raamwerk en die maksimum afstand van 400 m is nie oorskry nie. Die 200 skuts het met gemak klaargekry en daar was boonop tyd om by Heidelberg-gholfklub ’n vleisie op die kole te gooi terwyl dit nog lig was.

Inyathi Sporting Supplies was die hoofborg tydens die prysuitdeling en het, soos die vorige keer, dit vir die vier topspanne beslis die moeite werd gemaak. Die wenspan asook die span wat tweede plek ingepalm het, se manne het elk ’n Nightforce-teleskoop ontvang. Die span wat derde was, is met Hornady-herlaaistelle beloon, terwyl die span wat vierde geëindig het, GRS-kolwe ontvang het. Dit vertoonwoordig sowat ’n kwartmiljoen rand se pryse wat teruggeploeg word in die skietgemeenskap wat hierdie handelsmerke getrou ondersteun.

Safari Outdoor maak op 21 September weer so en die skietbyeenkoms word dan oudergewoonte by Oppie Plaas naby George aangebied. Maak seker jy slaap nie as dit by die inskrywings kom nie, want dit verkoop binne ure uit! Om in te skryf, skakel gerus vir Jacques du Plooy by 082 940 0789 of Christo Delport by 079 498 6227.